Home  //  Testimonials

Jan Schoonraad

Ek gee hierdie getuienis van my lewe; nie om enige iemand te na te kom, of af te kraak nie! Die doel van die getuienis is nie om myself vry te skeld, verskonings te maak, of om myself aan te prys nie. Dit is slegs my eerlike weergawe van my lewe en hoe ek dit beleef het, maar ook hoe ek dit vandag verstaan. Ek hoop dit sal aan mense verklaar vanwaar ek kom, wie ek was en deur God se genade wie ek is vandag!

Vandat ek maar kan onthou was ek ‘n alleen, stil, eenkant kind gewees…..

Ek het grootgeword in ‘n goeie huis, maw. my ouers was lief vir ons as kinders en het goed vir ons gesorg. My pa het gewerk as ‘n skagsinker, hy het nuwe myne begin en voltooi wat gewoonlik so ± 2-3 jaar geduur het. Sodra die projek dan klaar was, het hy geskuif na die volgende projek. Die gevolg was ons as kinders het gereeld verwissel van skool, so elke 2-3 jaar! Dit was vir my nogals traumaties want ek maak net vriende en vind my voete, dan moes ons weer trek! Die ergste vir my was gewees toe ons getrek het Bostwana toe; ek was maar ses jaar oud en moes natuurlik skool toe; die enigste probleem was ons (ek en my twee ouer sussies) moes na Pietersburg Laerskool toe gaan omrede daar geen Afrikaanse skole in Botswana was nie. Wel ses jaar oud, honderde kilometers van my ouers af in ‘n ander land was vir die volgende jaar my voorland! Ons het slegs in skoolvakansies huistoe gegaan.

Die Here het my toe in latere jare (nadat ek Jesus gevind het) gewys hierdie was die kritieke deel van my lewe, dit was hier waar satan vir my kom vertel en gelieg het – jy is nie goed genoeg nie, jou ouers wou jou nie hê nie, daarom is jy in ‘n koshuis in ‘n ander land; jy is ‘n nikswerd; jy is net ‘n oorlas vir hulle! Ek het dit geglo as 6 jarige en dit het my identiteit geword! Dit het daartoe gelei dat ek ‘n alleen mens geword het, skaam en teruggetrokke, met geen selfbeeld!
Op my eerste “Ancient Paths” seminaar in Greytown kom die Here die laaste dag en wys vir my deur ‘n fasiliteerder dat ek nooit ooit weer alleen sou wees nie - en skielik het my lewe voor my afgespeel en ek kon sien hoe satan al die jare by my gesteel het! Dit was asof my keel al die jare toegedruk was, ek het net gepraat as ek moes en so min as moontlik. Ek het behoorlik getjank en jare se hartseer het van my afgeval.

Na hierdie prentjie kom ons Vader toe en wys my ek is Sy kind en ek het al hierdie vaardighede, en dat Hy my spesiaal geskape het om te kom doen wat net ek – Jan Schoonraad, vir Hom op aarde kan doen, niemand anders behalwe ek kan dit doen nie. Hy “impart” toe Sy identiteit binne in my, nie wat die wêreld van my sê nie, maar wat Hy van my sê! Wow! Hy sê ek is Sy kind en Hy is sooo.. lief vir my!
Dit het my hele lewe en persoonlikheid verander!

Daarna is ons na Gravelotte, ‘n klein dorpie tussen Tzaneen en Palaborwa.
Daar gekom is ons is weereens koshuis toe. So my eerste drie jaar (vormingsjare) was ek
in ‘n koshuis. In die tyd het ek Longontsteking opgedoen, my arm gebreek en die ergste van alles my ouers was nie daar om te troos nie, ek moes die pyn en hartseer maar self verwerk.

(verstaan asb mooi, ek het my ouers baie lief en het hulle lankal vergewe en vrygespreek en dra geen verwyte in my nie! Hulle wou maar net die beste vir ons gehad het en was blind vir die skade wat daardeur aangerig is)

Ek het wonder bo wonder redelik goed gevaar op skool en het altyd deurgekom, ek het eintlik bogemiddeld gedoen. In st.5 het ek nie prefek geword nie en het ook nie presteer op sportgebied nie. So my selfbeeld was maar laag en ek was altyd agter in die bondel.

Ek is toe Hoërskool toe wat aanvanklik maar vreesaanjaend was, dit was ‘n groot seunsskool met 1200 leerlinge. Ek het nooit die A-span gehaal of die eerste drie plekke in sport behaal nie. Ek het ook niks gedoen om aandag te trek nie, en het maar uit die moeilikheid gebly.
Gedurende st.8 het my ouers weer getrek, maar die keer het ek besluit, ek bly in die skool en trek nie weer nie; dus is ek weer koshuis toe. Ek was aanvanklik een van die kleinste st.6’s in die skool, maar skielik het ek hier in st. 8 begin langer word en die skool het amper vir my lekker geword. Ek was nogsteeds baie gemiddeld en agterlangs!
In st. 9 word ek wonderbaarlik gekies vir ons skool se 1ste krieket span, ek was uit die veld geslaan maar het elke oomblik van die aandag geniet. Ek word dan later die jaar gekies as Leerlingraadslid en Koshuis prefek. In matriek word ek boonop gekies vir die skool se 1ste rugbyspan en ek was in die wolke! My selfvertroue het ‘n stewige “boost” gekry!
Ek ontvang tydens die prysuitdeling die trofee vir beste vordering as rugbyspeler asook vir sportmanskap van die jaar. (Later het ek besef dat as ek net 50% in myself geglo het of as iemand net positief in my lewe sou gespreek het dan kon ek soveel verder gekom het; met akademie sowel as sport).

(ek het dan eers later in my lewe besef, God het my stelselmatig begin losmaak van die minderwaardigheid en die swak selfbeeld wat ek gehad het; en Hy het veral sport gebruik om my selfbeeld te verander)

Die volgende fase in my lewe was die oproep Weermag toe, ons het dit almal gevrees, maar daar was tog ‘n mate van opwinding in my binneste. Ek is opgeroep Pretoria toe (Spesiale Magte keuring by Swartkops; weet nie hoe ek daar uitgekom het nie!)
Dit was ‘n regte intense keuringsproses; ons moes byvoorbeeld 14km stap/hardloop met
‘n rugsak vol sand en klip (±30kg); en dit moes ons doen onder twee ure! Ons moes ook
5km hardloop onder 20minute (maw. 4min per km); dan was daar nog batterytoetse
(Push-ups/situps/pullups en mediese fiksheidstoetse)
Ons het begin as 1200 troepe en na die fiksheidskeuring het slegs 400 oorgebly – ja en ek was een van hulle. Nadat die bevelvoerder aan ons verduidelik het waaroor “reccies” gaan en dat jy verplig was om kortdiens aan te sluit (maw. Staande Mag) het ek besef ek kan
nie gaan nie want ek het reeds kontrak geteken as Vakleerling Elektrisien by Anglo American. Ek is sonder seremonie afgegooi en het by Potchefstroom 3 SAI beland. Ek was baie bly, want dit was naby aan die huis! Maar na die eerste maand wou ek net weg; daar is ek blootgestel aan diefstal/dagga/maagaandoeninge en vele meer… ja dit was erg!

Gedurende hierdie tyd het Oudsthoorn Infanterieskool werwing kom doen vir Junior Leiers. Ek het dadelik my hand opgesteek en het die keuring geslaag. Die naweek het aangebreek waar ons na drie maande van hel in die Weermag, om pas te kry en huistoe te kan gaan.
Groot was my verbasing en teleurstelling toe aan ons meegedeel is dat ons Oudsthoorn toe vertrek die naweek wanneer my maats huis toe gaan. Dit was om van te huil!
Twee dae later arriveer ons op Oudsthoorn, en die reisies begin… jy mag nie loop nie, jy moes draf van punt A na B. Fluitjies blaas aanhoudend en dit is chaos, dieselfde dag word jou toerusting uitgedeel en jy moet die Infanterie Skool se lied dieselfde dag leer en ken. Orals doen troepe “push-ups” en word rondgejaag, daardie nag het ons nie geslaap nie. Gedurende hierdie soms uitmergelende jaar word ek as 18 jarige opgelei om oorlog te gaan maak, veldkuns, skietkuns, metodiek, dril, dissipline ens….!
Teen die einde van die jaar passeer ek uit as Korporaal. Jy kon drie keuses maak na watter bassisse jy wou gaan; en myne was natuurlik, Potch/Lenz en Potch…!
My Luitenant kom sien my so week later en sê vir my hy het goeie nuus vir my…Ek bly by Infanterie Skool om die volgende jaar se leiers op te lei! Ek was so teleurgesteld en wou huil!

So ja; ek is die volgende jaar aangewys as Peleton Sersant, in beheer van 55 x agtienjariges.
Die Luitenant is die hoof van ‘n Peleton, die Peleton Sersant is tweede in bevel en dan kom die Instrukteur. Dinge was egter van die begin af deurmekaar.
My Instrukteur het sy nek seergemaak in ‘n motorfiets ongeluk en my Luitenant het Provinsiaal rugby gespeel, so in pleks van drie leiers was dit net ek; nodeloos om te sê, ek het nie veel geslaap nie; ek moes dril opleiding gee; veldkuns aanbied; skietkuns aanbied; kaartlees en dissipline toepas vir twee maande lank.

Later die jaar is ons grens toe; twee 19 jariges in beheer van 55 jongmanne; gereed om oorlog te maak en dood te maak! Daardie tyd was dit maar aanvaarbaar, maar as jy terugdink dan weet ek nie, dit was vreeslik! Ek dink nie ek kan my seun weermag toe stuur na skool om iemand dood te gaan maak nie.
Groot was ons blydskap toe ons uitklaar uit die weermag; die lewe gaan nou begin en dit gaan mos net lekker wees!

(ek het baie gedink oor hierdie tyd in die weermag, en ek kon toe net die afleiding maak, ek was opgelei om met manne te werk! Vader het my blootgestel in areas waar ek toegerus is vir wat kom. As 19 jarige Korporaaltjie kon ek 55 manskappe leer maar ook beheer en dit het my selfvertroue gegee)

Ek het dan ook begin met my opleiding as Elektrisien by een van Anglo American se goudmyne. Dit is regtig sout van die aarde mense wat daar werk en ek het gou vriende gemaak. Ek is ook oorreed om aan te sluit by die dorp se rugbyklub.
Die intense fiksheidsoefeninge in die Weermag het sy voordele gehad want ek was superfiks en het ontwikkel in ‘n goeie rugbyspeler. Ek is vir drie jaar agtereenvolgens gekies as rugbyspeler van die jaar. Saam met die rugby het ook die kuier na die tyd
gekom; ek wat glad nie gedrink het nie, het skielik begin kuier saam met die manne (almal wil vir my bier na die tyd koop agv, baie drieë gedruk en die “hero” wees …ek het vleul gespeel).
Gedurende hierdie tyd het ek vir Hannelie my toekomstige vrou ontmoet en ek was baie verlief!
My rugby het baie verbeter en ek is gekies vir die Wes Transvaal Gouebeker span (eerste speler wat 12 wedstryde gespeel het vir die span) asook vir die IMGAR span (Verteenwoordig alle mynhuise in die land en het provinsiaal meegeding).
Die kuiery het vermeerder en ek het die heldeverering van die spelers baie geniet! Ek het ook later vir Randfontein se eerste span gespeel en het gespeel teen alle provinsiale helde soos Uli Scmidt/Louis Moolman/Gerbrandt Grobler ens.

(ek het dan ook eers later besef dat God die sport gebruik het om aan my waardigheid en selfvertroue terug te gee)

Nadat ek gekwalisfiseer het as Elektrisien is ek en Hannelie getroud en twee jaar later is ons meisiekind Janke gebore. Dit was ‘n moeilike tyd in ons huwelik; veral vir Hannelie. Sy moes baba grootmaak en ek het rugby gespeel en gekuier.
Ek het vir drie jaar gewerk as Elektrisien toe my vriend van ‘n naburige myn my bel en sê
daar is ‘n pos waarvoor ek moes aansoek doen; nogals as Opleidingsbeampte. Ek het sommer reguit nee gesê, ek kon slegs “yes and no” met selfvertroue in Engels sê, wat nog van opleiding gee! In elk geval Manie het in my geglo – dit was ‘n eerste vir my dat iemand in my geglo het, en ek het toe maar aansoek gedoen en het die pos gekry.

(weereens kon ek later sien hoe God besig was om my toe te rus vir die toekoms, Hy het my geleidelik en saggies begin blootstel in poste en posisies om myself te verbeter en toe te rus)

My seun Carel word toe gebore, ek was baie bly want ek wou nog altyd ‘n seun gehad het.
Na ‘n paar jaar op die myn en redelik “gesettle” in my werk, toe val die goudprys en daar is begin met afleggings. Op daardie stadium van my lewe het ek na ure privaat elektriese werk gedoen om ons inkomste aan te vul, en toe die afleggings begin het ek ook my werk verloor. My besigheid was op daardie stadium redelik gevestig en dit het goed gegaan. Hannelie het ook haar eie besigheid gehad en ons het gedink ons was “oraait”.
Beide ek en Hannelie het sterk persoonlikhede gehad en het dit seker nogsteeds; maar wat gebeur het, sy het ook goeie geld verdien en het haar keuses oor geld gemaak nes sy wou, en sy het nie my toestemming daarvoor nodig gehad nie. Dit het maar gelei tot baie onenigheid en rusies.
Vriende na aan my wou in hierdie tyd ‘n huis koop en het aangehou om my te vra om die huis op my naam te koop om hulle te help. Hulle besigheid het net begin vooruitgaan en hulle het my oortuig. Ek wou nie vir my vrou luister nie en het voortgegaan met die huiskoop. Nodeloos om te sê; die “besigheid waarmee hulle sou vooruitgaan het misluk en hulle laat my toe net so met die huis – wat ‘n gemors!
Ek kon toe vir ‘n paar maande die huis betaal maar toe verloor ek een van my hoof kontrakte en vandaar af was dit afdraende pad. Ek het probeer om van die laste en bekommernisse weg te kom deur meer te kuier. Ek en Hannelie het toe al hoe verder uitmekaar gedryf en ons was albei baie ongelukkig.

(Ons dogter was gedurende hierdie tyd 12 jaar oud en dit is gewoonlik die tyd waar die pa sy kind moet seën en haar of sy identiteit en roeping moet bevestig. Dit is gewoonlik ook die tyd waar satan sy bes sal doen om huwelike op te breek sodat hierdie seën proses verlore sal gaan en satan sodoende by die volgende geslag steel of hulle dan ontspoor.)

Wel dit is presies wat amper met ons huwelik gebeur het. Met die gekuiery het my oë
begin dwaal want ek het soos ‘n mislukking gevoel en het orals erkenning gesoek!
Wel ek het toe aandag gekry, en vir drie maande was ek in ‘n sms-verhouding gewees en ons huwelik het toe amper in ‘n skeisaak ge-eindig.
Dit was die vreeslikste tyd in my lewe, ek het my vrou en kinders, my vriende en familie teleurgestel en die ergste myself. Hannelie wou met alle geweld skei, maar ek het geweier en ek sou veg vir ons huwelik en kinders tot die einde toe!

Wel hoe stel ‘n man dit wat gebeur het reg, hoe wen ek weer my vrou se hart, haar vertroue en liefde? Dit was ‘n lang pad van seker twee jaar voordat daar weer enigsins ‘n vertrouens verhouding kon wees.
Wat ons gered het; ‘n vriendin van Hannelie, Judith het vir haar as ‘n verjaarsdag geskenk
genooi na ‘n Woord en Aksie Vrouekamp in 2004. Na die naweek toe Hannelie terugkom was sy ‘n ander mens, sy het haar lewe vir Jesus gegee en sy kon my vergewe en vryspreek! Ek kon nie verstaan wat oor die naweek gebeur het nie, maar sy het verander, die afsku in haar oë na my was weg, en dit het regtig gelyk of sy my vergewe het. Dit het my gefassineer en ek wou ook hê wat sy gehad het – naamlik vrede!

So, ses maande later toe besluit ek en drie pêlle ons gaan op ‘n mannekamp by Woord en Aksie; ja die kamp was vreeslik “weird” vir ‘n NG kerk lidmaat. Tydens die samesang het mense hande geklap en gedans en dit het gelyk of hulle op ‘n ander planeet was. Ek het amper weggehardloop! Die Sondagoggend het ‘n sekere Francois Venter gepraat, hy het in Israel grootgeword en was in die weermag se spesiale afdeling en ek kon my regtig vereenselwig met hierdie forse man; sy getuienis het my diep geraak. Hy het ‘n
uitnodiging aan die manne gemaak om Jesus aan te neem en ek en my vriende het opgestaan en Jesus aangeneem as ons Verlosser en Saligmaker. Ek het nou wel nie klokkies gehoor of ‘n fisiese gevoel ervaar na die gebeurtenis nie (met respek gesê); maar ek het geweet ek is gered. Terug by die huis kon ek en Hannelie werklik mekaar in die oë kyk en verklaar dat ons vir mekaar lief is en vir mekaar omgee.

(daar was egter nog een probleem, ek kon myself nie vergewe het vir wat ek gedoen het nie,
en dit het nog ‘n jaar of wat geneem voordat ek myself kon vergewe)

Dit was die keerpunt in ons lewens, van hier af het het alles begin verander maar ek het nog gesukkel om die Heilige Gees se sagte stem te hoor.
My goeie vriend Paul bel my een Vrydagoggend en vra wil ek nie saam hom op ‘n mannekamp sal wil gaan, saam met die Evangelies Gereformeerde Kerk nie? Aanvanklik sê ek nee maar hy oorreed my later en daar gaan ons.
Gedurende die naweek word ek gekonfronteer met die feit dat ek nogsteeds baie kwaad was vir hulle wat my finansieël geruineer het. (asof ek nie daarmee gehelp het nie…!) In elk geval; die Here werk toe so hard en duidelik met my daaroor dat ek net eenvoudig my onvergewensgesindheid moes bely en dat ek hulle moes vergewe. Dit was egter nie al

nie, ek word toe uitgedaag deur die groepie leier om die Maandag terug by die huis die persoon te bel en aan hom te sê ek vergewe hom en spreek hom vry. Sjoe dit was definitief een van die moeilikste dinge wat ek ooit moes doen; maar die oomblik nadat ek
klaar gebel het kon ek letterlik voel hoe die laste en pyn gedra oor die jare van my skouers afval, dit was onbeskryflik en van daardie dag af kon ek Jesus se stem hoor en het die deurbraak ook gekom!

(van diè dag 17 September 2004 toe ek my hart vir die Here gegee het tot waar die deurbraak in my verhouding met God gekom het was twee jaar; onvergewensgesindheid het my verhouding met Jesus geblok!)

Hannelie het toe by ‘n vroue selgroep aangesluit en ek kon net sien hoe sy groei in haar verhouding met Jesus. Ek het gevoel of ek agter raak, sy het alles opgeslurp wat sy geleer het. Ek vra toe of ons nie dalk in die aande kan selgroep hou nie sodat ek ook meer kan leer. Dit is hoe ons by ‘n wonderlike vrou en vriendin uitgekom het, Ina was prominent in ons geestelike groei en redding.

Op hierdie stadium het ek gewerk by ‘n kontrakteur as ‘n “Site Manager” en dit het al hoe meer uitdagend geraak. Gedurende die week was dit ‘n gevloek en skree om die werk gedoen te kry en dan elke tweede week – betaaldag; moes ons almal saam braai en drink en almal was weer pêlle! Dit het my moeg gemaak, ek kon nie twee mense wees nie.
Die Here kom toe op een dag (24 Aug 2007) en bevry my van drank, ek het die Saterdagoggend na ‘n braai wakker geword en net gevoel, ek is klaar met drank!! Tot vandag het ek nog nooit weer my lippe aan drank gesit nie, alle eer aan die Here!
Dit het al hoe moeiliker geword om by die maatskappy te werk, ek het opgehou lelik praat en opgehou drink – ek het net nêrens ingepas nie!
Ek en Hannelie het toe oor die saak gebid en ek het besluit om te bedank, en ja ek het nog geen ander werk gehad nie! Almal was verstom dat ek so-iets kon doen, veral my baas, hy het tot vir my ander werk gesoek…!
Ek moes my werksbakkie teruggee, en ons moes ons motor verkoop om van die skuld te delg. My vriend Paul het my sy bakkie tydelik geleen, hy is steeds ‘n ware vriend en staatmaker! Twee weke het verbygegaan totdat ‘n vriend my bel van Murray and Roberts, hulle het ‘n tydelike pos beskikbaar gehad vir ‘n Opleidingsbeampte. Ek het die pos aanvaar en dit was maar uitdagend, ek moes elke dag 90km na Johannesburg toe ry en
90km terug. My broer Kallie het sy motor aan my verkoop en ek kon dit maandeliks afbetaal. Na net drie maande het ek bevordering gekry, en voor ek my oe kon uitvee het ek na nog drie maande weer bevordering gekry, die keer as Opleidingsbestuurder! Die Here het ons geseën en ons kon toe die Mazda bakkie koop!

(dit was net wonderlike guns van God, want nie een keer was die pos geadverteer nie, die pos is spesiaal geskep, en ek is ook die bevordering aangebied, ek het nooit daarvoor aansoek gedoen nie!
Die feit dat ons die Mazda op huurkoop kon koop was ook ‘n wonderwerk want ons geskiedenis met die huis wat ons verloor het en al die ander dinge, was ons gelys op die swartlys.)

Maar die Here was nogsteeds nie klaar met my nie, na ses maande het ek weer bevordering gekry, die keer as “Senior Training Manager-Engineering”! Ek was net verstom, in 12 maande was ek drie keer bevorder sonder dat ek een keer aansoek gedoen het, of dat daar enige poste beskikbaar was; en my salaris het meer as verdubbel!

(ek kan ons Almagtige Vader net dank vir hierdie laaste paar jare, van 2004 tot 2012, dit was
n “exiting rollercoaster” vol verassings; genesings, ‘blessings’ en deurbrake.)

Daar is soveel meer waaroor ek kan getuig maar dan moet ek ‘n boek skryf!
Net nog een ding, ons plan was om teen Desember 2013 skuldvry te kom, wel Vader het ons presies ‘n jaar afslag gegee; Prys ons Koning! Hy het dit so bewerkstellig dat ek die skuld (± R1,6 miljoen) en as ‘n salaristrekker, dit kon afbetaal in net vyf en ‘n half jaar! Die seën van die Here maak ryk…(Spr 10:22)

Ek hoop hierdie getuienis vertel jou meer van wie ek is en waar ek vandaan kom. Nou kan julle dalk verstaan hoekom ek ons Vader so baie lief het, ek is uitgered toe ek op ‘n stadium net mooi niks gehad het nie – nie eens hoop nie; maar Hy het my kom leer van geloof en vertroue. Hy het elkeen van ons sooo.. lief; en Hy wil net met ons tyd spandeer en ons leer, dinge wat ons nie weet nie sodat ons kan weet watter krag Hy wat God is, in ons geplaas het.

Hier waar ek sit dink ek elke dag aan “Father and sons”, dit waarmee Hy my vertrou het, en ek is so opgewonde vir elkeen van julle wat julle hand opgesteek het om betrokke te wees en te help. Vader gaan julle bonatuurlik seën, wees verseker.
Ek sê dan ook dankie vir elkeen se bereidwilligheid en ondersteuning. Dit gaan vir elkeen van julle ‘n getuienis wees wat julle weer kan oorvertel om mense te help en te bemoedig!

Baie liefde en seën. Jan